Volgens Emily Hobhouse was die eerste konsentrasiekamp van die Anglo-Boereoorlog by Mafeking gevorm.
Die kamp was 'n Vlugtelingskamp (Refugee camp) in die ware sin van die woord deurdat dit
oorspronklik ontstaan het deur hawelose families in die Noord-westelike distrikte wat, as gevolg van
die Verskroeide aarde beleid, geen ander heenkome gehad het nie. Hierdie kamp sou later deur die
Britse owerhede in 'n konsentrasiekamp omskep word.
Die kamp was oorspronklik wes van Mafeking gewees op 'n afstand van ongeveer 7 myl (11 kilometer) by
'n plek met die naam van Willowdam. Waar Willowdam was kon nog nie bepaal word nie aangesien dit
blyk dat die pleknaam nie meer bestaan en ook nie op ou kaarte opgespoor kon word nie. Van waar af
die 7 myl bereken moet word is ook nie duidelik uit die bron nie. Op Kaart 1 word 'n 7 myl radius
aangetoon vanaf die Spoorweg-stasie wat gedurende die oorlog moontlik aan die buitekant van die dorp
was. Deur na die kaart te kyk, wil dit voorkom of die huidige Modimola dam die bes moontlike ligging
van die eerste kamp kon gewees het.
Weens militêre en sanitêre redes is die kamp by Willowdam in opdrag van Lord Methuen teen Mei 1901
verskuif van 'n gebied nader aan Mafeking. Volgens die kampsuperintendent, R.L. McCowat was die kamp
5 myl vanaf Mafeking. Ongeveer 30 jaar later het H.W. Huyser verklaar dat die kamp min-of-meer 3 myl
(ongeveer 4.8 kilometer) uit dorp was aan die oewers van die Molopo rivier. Dit stem ook ooreen met
Dr. Kendal Franks se verslag. Weereens meld die bronne nie van waar tot waar die afstand bepaal is
nie. Op die kaart bo-aan hierdie bladsy word 'n radius van 3 myl aangedui vanaf die Spoorwegstasie.
Op die kaart kan gesien word dat die hoof konsentrasiekamp begrafplaas ongeveer 2 myl (2.3
kilometer) vanaf die stasie is. Dit lei tot die vermoede dat die konsentrasiekamp self in die gebied
oos van die twee bekende begrafplase was.
Die vrouens en kinders is na Mafeking vervoer deur middel van ossewaens of per trein in oop trokke.
Dit blyk dat die vervoer per treinspoor vir inwoners vanaf die Bloemhof distrik was - wat natuurlik
naby die Mafeking-Vryburg treinspoor was. Die inwoners vanaf Marico se distrik is dan ook
hoofsaaklik per ossewa vervoer. Vir die vrouens en kinders wat vanaf die ooste deur Mafeking na die
kamp moes gaan, was dit besonders moeilik gewees. Tussen Mafeking en die kamp is hulle deur die stat
van Montshioa geneem. Die stat se inwoners het hulle uitgejou en beledig. Hierdie deurtog was 'n
groot vernedering vir die gevange mense gewees.
Verskeie bronne dui aan dat die kamp hoofsaaklik in twee dele verdeel was. Daar was 'n Noordkamp en
'n Suidkamp. Hierdie kampe was verdeel deur die Molopo rivier. Die Noordkamp was hoofsaaklik vir
inwoners wat die Eed van Getrouheid onderteken het. Hulle het ook gewoonlik beter rantsoene en
behandeling ontvang. Die Suid kamp was daar vir die families wie se mans steeds teen die Engelse in
die veld geveg het. Die kamp vir die wie se mans nie die Eed van Getrouheid afgelê het nie se kamp
was met doringdraad omhein, terwyl die ander kamp nie omhein was nie. Verder was daar ook 'n
gevangenekamp vir vrouens wat moeilikheid gemaak het asook 'n kamp vir die Kaapse Rebelle en ook
krygsgevangenes vanaf Groenpunt.
Volgens Dr. Kendall Franks was die Suidkamp ongeveer 1 myl (1.6 kilometer) in lengte wat gestrek het
van oos na wes teen 'n kalkheuwel wat opwaarts na suid beweeg het. H.W. Huyser, wat 'n inwoner van
die kamp was, skat die Suidkamp op ongeveer 1.5 myl (2.4 kilometer) lank en 'n halwe myl (800 meter)
breed. Verder is Noordkamp is deur Huyser geskat op 0.75 myl (1.2 kilometer) lank en 0.25 myl (400
meter) breed. Dr. Franks meld in verband met die Noordkamp dat dit op 19 Oktober 1901 ongeveer 600
"refugees" gehuisves het. Met die inligting word aangeneem dat die kampe se ligging moontlik
uitgesien het soos aangedui op die kaart as Noordkamp en Suidkamp. Die kampe kon selfs verder oos
gewees het.
Die kamp het ook 'n slagplek gehad waar diere geslag is om in vleis te voorsien. Die slagplek was
ongeveer 100 meter vanaf die kamp gewees, waar die kinders van die kamp gereeld saamgedrom het in
die hoop om dalk ietsie ekstra soos afval en derms te kry om te eet. Die bronne meld nie aan watter
kant van die kamp die slagpale was nie.
Die latrines was aan die suidoostelike grens van die kamp geleë, ongeveer 130 meter vanaf die naaste
tente. Dit was problematies aangesien dit in praktyk beteken het dat 'n siek persoon met byvoorbeeld
diarree moontlik 800 meter sou moes loop om by die latrines uit te kom. As aangeneem word dat die
Noordkamp dieselfde geriewe moes gebruik, beteken dit dat hulle selfs verder moes loop. Dit
verduidelik waarom sommiges eerder die veld ingeloop het as om die latrines te gebruik. Daar was 16
latrines in die vorm van slote waaroor 'n sitplek gesit was en wat omhein was deur 'n sinkhuisie van
ongeveer 2 meter in lengte en in breedte. Van tyd tot tyd is kalk in die slote gegooi. As in gedagte
gehou word dat die 16 latrines daagliks deur soveel as 5200 mense gebruik was, dan kan 'n prentjie
geskep word van die gesondheidsrisiko wat hierdie latrines ingehou het - veral as in gedagte gehou
word dat daar 'n uitbraak van masels was. Boonop was die Dameskomittee se bevinding dat die slote te
breed was en dus gevaarlik was vir klein kinders. Volgens Mevrou Swart se verklaring was die stank
onuithoudbaar wanneer die wind in die rigting van die tente gewaai het. Eers teen Februarie 1902 is
die slootgraafstelsel vervang met 'n emmerstelsel.
Rantsoene was daagliks deur 'n venster ontvang by die Rantsoenhuis. Die huisie was geleë in die
middel van die kamp se lengte, naby die grens van die kamp. Die organisasie was nie doeltreffend
nie, met die gevolg dat mense vanaf 08:30 tot laat in die agtermiddag daagliks by die Rantsoenhuis
saamgedrom het om rantsoene te ontvang. By hierdie huisie is ook hout ontvang. Die hout was
gewoonlike groot stompe gewees wat tot ergenis gelei het aangesien dit terug gedra moes word tente
toe en dit ook moeilik was om dit klein te kap sonder behoorlike gereedskap. Die gevolg was dat
inwoners soms graswortels, boomwortels en dieremis gebruik het om die kosvure aan die gang te kry.
Die rantsoene was aanvanklik voldoende maar namate die kamp gegroei het en die oorlog verder gewoed
het, het die kos se gehalte en hoeveelheid verminder. Op 'n stadium is vleis van siek diere aan
hulle voorsien, met die gevolg dat die vrouens onder leiding van 'n sekere Mevrou Phillipina Roos in
opstand gekom het en wou deurbreek Mafeking toe om te gaan kla oor die toestand van hulle kos.
Hierdie Mevrou Roos het ook tydens haar gevangneming op haar plaas handgemeen geraak met die Engelse
soldate. Naderhand het die gehalte gesonde voedsel verbeter en het die sterftesyfer drasties
afgeneem.
Die kamp het nie voorsiening gemaak vir 'n lykshuis nie. Wanneer iemand tot sterwe gekom het, moes
die lyk vir eers in die tent bly totdat 'n kis gekry kon word. Om 'n kis te kry moes die familie
soos met die rantsoene by die Rantsoenhuis reël vir 'n kis. By hierdie Rantsoenhuis is dan desperaat
gestoot en gestamp om betyds 'n kis in die hande te kry. Eers wanneer 'n kis gereed was, kon die lyk
uit die tent uitgedra en begrawe word. Later nadat die sterftes toegeneem het, kon die kiste nie
vinnig genoeg beskikbaar gemaak word nie. Die oorledenes is toe begrawe in 'n houtraam waaroor 'n
kombers getrek is. Begrafnisse is deur die kampinwoners self uigevoer. Kampinwoners moes self hulle
geliefdes se kiste na die graf dra of deur kampkinders met 'n waentjie laat aanry. Kinders het
menigmaal gehelp om die grafte te grawe en ook toe te gooi. Gedurende die tydperk wat die sterftes
is op sy ergste was kon daar nie vinnig genoeg grafte gegrawe word nie, en is daar derhalwe in party
grafte meer as een persoon begrawe - soms ook gesinslede wat dieselfde dag oorlede is. Volgens die
Dameskomitte se verslag was hierdie grafte maar ongeveer 3.5 voet (1 meter) diep en het voorgestel
dat die grafte ten minste 6 voet (1.8 meter) diep moes wees en dat die grafte verder gegrawe moes
word aangesien die grafte alreeds 7 meter van die kamp se grens af was. Boonop was daar 3 groot
rommelhope tussen die grafte. Die afleiding is dus dat die Magogwe begrafplaas na die hoof
begrafplaas ontstaan het en ook na aanbeveling van die Dameskomitte.
Soos ander kampe, het die Mafeking kamp ook 'n hospitaal gehad. Die inwoners het 'n vrees gehad vir
die hospitaal aangesien hulle geglo het dat as jy eenmaal hospitaal toe gaan, die dood op jou wag.
Die meeste getal sterftes het in Oktober 1901 plaasgevind, met 3 Oktober 1901 se 28 sterftes wat
aangedui was as die meeste op een dag. Dr. Kendall Franks het die hoë getal sterftes toegeskryf aan
'n groep nuwelinge wat op 12 Augustus 1901 vanaf Taungs opgedaag het. Hierdie mense het vanaf 21:00
tot 01:00 in die kamp opgedaag en het 'n masel epidemie saam het hulle gebring. Aangesien die
kampowerheid hulle nie ondersoek het en in kwarantyn geplaas het nie, het hulle die epidemie na die
res van die kamp versprei wat tot die aansienlike getal sterftes gelei het. Alhoewel Dr. Franks nie
die kampdokter (Dr. Kaufmann) aanspreeklik gehou het nie, het die Dameskomittee bevind dat Dr.
Kaufmann en die kampsuperintendent (R.L. McCowat) aanspreeklik was. Hulle het derhalwe geëis dat
McCowat vervang word. In Januarie 1902 is hy dan ook vervang met Herbert Kemball-Cooke. Anders as sy
voorganger, was hy gewild onder die kampinwoners en het hulle gevoel dat hy grootliks hulle
omstandighede vergemaklik het. Dr. Kaufmann het weens stres en uitputting bedank en is op 12 Oktober
1901 vervang deur 'n bekwame Dr. Morrow.
'n Omstrede onderwerp is die bewering dat daar vreemde voorwerpe soos vishoeke en vitriool in die
voedsel was. In die Huyser versameling van verklarings deur vorige inwoners van die Mafeking kamp,
bevestig 16% van die verklarings dat daar vreemde voorwerpe soos vishoeke in die geblikte voedsel
was. Die voorkoms van vitriool in die voedsel is ook deur 9% bevestig. Die ander verklarings maak
nie melding van vishoeke of vitriool nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die skrywers van
die verklarings nie spesifieke aanwysings gekry het oor watter onderwerpe van die kamplewe aangeraak
moes word nie. Dit is dus moontlik dat die skrywers nie gedink het om daaroor te skryf nie. Reynolds
wys in haar navorsing daarop dat die Britse troepe dieselfde blikkieskos gekry het as die
kampinwoners en dat die vervaardigers van die voedsel nalatig was. Reynolds wys ook daarop dat blou
kleursel tydens die vervaardigingsproses in die suiker gebruik was om die kleur te verander van geel
na wit. Dieselfde suiker is deur die Britse soldate en kampinwoners gebruik wat daarop dui dat dit
nie 'n moedswillige poging van die Britte om die inwoners uit te wis nie.
Onbeantwoorde vrae
Daar is verskeie vrae rondom die Mafeking konsentrasiekamp wat nog onbeantwoord is en waaroor meer
behoorlike navorsing gedoen behoort te word naamlik hoeveel mense is presies in die kampe oorlede;
hoeveel begrafplase was daar; waar was hulle
geleë en hoekom is daar nog nie 'n poging vanaf navorsingsinstansies aangewend om die vermiste
begrafplase op te spoor nie?
1. Hoeveel mense is in die Mafeking konsetrasiekamp oorlede?
Volgens die sogenaamde Britse Blouboeke is daar 981 mans, vrouens en kinders in die Mafeking
konsentrasiekamp oorlede tussen Julie 1901 en Maart 1902 (wanneer die sterftegetalle onder beheer
was).
Celesté Reynolds se navorsing wat gebasseer is op beskikbare bronne, was daar 1413 sterftes gewees
tussen Julie 1901 en Desember 1902. Dit is egter belangrik om te merk dat die korrektheid van die
statistiek gebasseer is
op hoe goed elke sterfte aangeteken was. Hobhouse self maak 'n opmerking dat die Blouboeke se
statistiek nie noukeurig was nie en dat daar moontlik meer sterftes was.
Volgens Sebigi is daar tydens 1949 gepoog om die grafte vanaf die kleiner begrafplaas te verskuif na
die hoof begrafplaas. Die restoreerders het in die grafte tussen twee en vier persone
se beendere gevind, minder as 1 meter diep begrawe. Weens die getal beendere, waarvan meestal
kinders was, het die restoreerders die verskuiwingspoging laat vaar. Die feit dat daar meer persone
per graf
begrawe is word bevestig deur die navorsing van Reynolds wat gewys het dat daar meer as 1045
(gekombineerde getal grafte) mense in die twee begrafplase begrawe is.
'n Byskrif by 'n foto
in die Maheking museum dui aan dat 4000 mense in die Mafeking kamp oorlede is. Hierdie getal van
4000 word deur enkele onbetroubare bronne gebruik om aan te beweer dat die waarheid deur die jare
verbloem is. Hierdie onbetroubare bronne maak verder ook lugraak skattings oor die getal sterftes.
Om te bereken dat meer as 4000 mense (wat hoogs onwaarskynlik is) daar begrawe is deur
1045 met 4 te vermenigvuldig is nie 'n betroubare metode om die aantal sterftes te bereken nie vir
die volgende redes:
2. Hoeveel konsentrasiekamp begrafplase was daar en waar was hulle geleë?
Huidiglik kan die ligging van die hoof begrafplaas sowel as die Magogwe begrafplaas uitgewys
word soos aangedui op die kaart. Was daar nog ander begrafplase van die Mafeking
konsentrasiekamp?
Die Eerste Minister van Suid Afrika se kantoor het in 1949 aangedui dat daar 3 begrafplase was (sien
Van der Walt). Twee van hierdie
begrafplase stem ooreen met die huidige 2 waarvan kennis gedra word. Die dokument dui verder ook aan
dat die 3de begrafplaas ongeveer 26 grafte bevat het.
'n Instandhoudingsdokument (PAS 2/1092) van 1926 in die Kaapstadse Argiefbewaarplek
dui ook aan dat daar 'n 3de klein begrafplaas was met ongeveer 25 grafte. Dit is dus waarskynlik dat
beide die
dokumente dieselfde, 3de begrafplaas se bestaan bevestig. Die 3de begrafplaas word ook in 'n
dokument ('n voorstel dat die 3 konsentrasiekamp begrafplaas nie meer deel van die "native reserve"
moet wees nie) van die Eerste Minister se kantoor aangedui (URU 869/3574).
Aldrie hierdie begrafplase is op 16 Junie 1927 verkoop aan die N.G. Kerk Mafeking. Sedert 2007 is
die Erfenistigting in beheer van die hoof konsentrasiekamp begrafplaas asook die begrafplaas by
Magogwe. Dit is nie duidelik wie tans beheer het oor die terrein waarop die 3de begrafplaas staan
nie.
Die instandhoudingsdokument (PAS 2/1092) dui verder aan dat die 3de begrafplaas op die
Middelburg-Pitsani pad was, ongeveer 6 myl vanaf Mafeking.
Mev. le Roux verklaar in 1929 dat haar kind in die begrafplaas by die spoorlyn begrawe is op 13
Desember 1901. Ook Mev. Smit verklaar dat een haar kinders aan die ander kant van die spoorlyn
begrawe is (5 ander kinders is in die groot begrafplaas begrawe), maar dat dit te ver vir haar was
om na haar kind se graf toe te loop. Wanneer daar na die kaart gekyk word, blyk dit dat die spoorlyn
nie naby die Magogwe begrafplaas verbyloop nie, tensy daar 'n ander spoorlyn in 1902 bestaan het.
Is dit dus moontlik dat daar 'n 3de begrafplaas was, naby die spoorlyn op die Mafeking-Pitsani pad?
Sekerlik.
In die brief vanaf die Eerste Minister se kantoor (URU 869/3574), word verder genoem dat die 3de
begrafplaas ongeveer 6 myl vanaf Mafeking op die Pitsani pad is en aan die suidelike
oewer van die Molopo rivier. Die Pitsani pad loop egter nie naby die Noordkamp of Suidkamp verby
nie. Kan dit die begrafplaas wees waarna verwys word as die een naby die treinspoor wat net suid
vanaf Mafeking is en vandag naby die huidige "Cookes Lake"? Of is hierdie 3de begrafplaas 6 myl
noord van Maheking op die Pitsani pad soos aangedui is in URU 856?
Hoe dit ookal sy, uit die beskikbare bronne weet ons dat die oorspronklike eerste ligging van die
konsentrasiekamp wes van Mafeking wees by 'n plek met die naam van Willowdam. Waar hierdie Willowdam
was kon nog nie bepaal word nie. Wat wel bekend is, is dat daar met die tyd toe die kamp nader aan
Mafeking verskuif is, reeds 'n aantal grafte by die kamp was (volgens Mev. Crafford se verklaring).
Is hierdie
begrafplaas wat by die Willowdam kamp was dieselfde as die 3de begrafplaas wat deur die Eerste
Minister se kantoor genoem was dieselfde kamp, of was daar ook 'n 4de konsentrasiekamp begrafplaas?
Hierdie vrae sal net deur behoorlike navorsing en besoeke aan die omgewing beantwoord kan
word.
3. Waarom het navorsingsinstansies nog nie die vermiste begrafplaas/begrafplase opgespoor nie?
Hierdie vraag is moeilik om te beantwoord behalwe om te veronderstel dat 'n noukeurige ondersoek in
die gebied onveilig is, dat daar nie voldoende fondse is nie of dat daar (nog) nie 'n belangstelling
bestaan om die vermiste begrafplase te vind nie.
Die vraag moet natuurlik ook afgevra word of daar na die ongeveer 120 jaar iets van die grafte nog
bestaan.
Bronne:
1. Cd 893. 1902. Report on the Concentration camps in South Africa, by the Committee of
Ladies.
2. Cd 819. 1901. Workings of the Refugee camps in the Transvaal, Orange River Colony, and
Natal.
3. Hobhhouse, E. 1902. The Brunt of the War and where it fell.
4. Huyser, H. W. Huyser Versameling van verklarings, Aanwins A951. Transvaalse
Argiefbewaarplek.
5. Reynolds, Celesté. 2013. Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog.
1899-1902.
6. PAS 2/1092 L58/GX/1. 1920 - 1930. Mafeking. Maintenance of concentration camp cemeteries:
Molopo native reserve. Kaapse Argiefbewaarplek.
7. Sebigi, M.A. 1998. The Mafeking concentration camp cemetries. 1900 - 1902.
8. URU 869/3574. 1926. Diversion from Molopo native reserve of certain areas used as cemeteries
for burial of persons who died in Burger concentration camps or Refugee camps during Anglo-Boer
War. Transvaalse Argiefbewaarplek.
9. Van der Walt S.Y. 2017. Stress, Disease and Ancestry of Mafikeng Second Anglo-Boer War
Skeletons. Universiteit van Pretoria.